|
Roete vanaf Kaapstad 'n Strook roetekaart van die roete vanaf Kaapstad kan gesien word deur te kliek op hierdie afbeelding of druk die strookkaart hier (.pdf formaat)
Hier is ook 'n kort beskrywing van die roete tot op Springbok, die hoof kommersiële sentrum van die Namakwaland streek. Paaie langs hierdie roete is oor die algemeen in goeie toestand. Sou tyd min wees is dit moontlik om regdeur na Springbok te ry. Ons beveel egter aan dat u ook van die alternatiewe roetes probeer. Die direkte roete is geteer. Hoewel van ons voorgestelde alternatiewe roetes nie geteer is nie is dit geskik vir gebruik met 'n gewone sedan motor. Omdat weerpatrone en padonderhoud nie deur ons beheer word nie, beveel ons sterk aan dat u plaaslik navraag doen voordat u die roetes gebruik. KAAPSTAD NA PIKETBERG (127km) Vanaf Kaapstad volg die N1 na Paarl vir ongeveer 10km en swenk links op die N7 na Malmesburry. Geniet die natuurskoon met groen koringlande en die blokke geel Canola tot by Malmesburry. Van hier het u twee opsies: Opsie 1: (65km) Volg die N7 verby Moorreesburg tot Piketberg. Opsie 2: (min 230km. Mag vereis dat u een of meer nagte oorbly) Volg die R315 na Darling. Verby Darling op linkerhand is 'n veldblom reservaat wat 'n wandeling werd is. Ry verder op die R315 en draai regs op die R27 na Velddrift. Na ongeveer 15km is die Weskus Nasionale Park op linkerhand. Hierdie park is om die Langebaan strandmeer geleë met baie blomme aan die suidekant (links) wat die lang stadige rit tot by die Postberg blomreservaat regverdig. Terug en draai dan links af na Vredenburg. Indien u tyd het, stop gerus by die voëlkykpunt langs die strandmeer. Verby Langebaan volg die pad verby SaldanhaStaal se onooglike aanleg tot by Vredenburg. Dit is 'n groot dorp indien u proviand moet aanvul. Die volgende stop is Paternoster waar u waarskynlik langer gaan vertoef as beplan. Probeer die Hotel vir kreef, dit is seker die beste langs die weskus. (U mag dalk wag sodat die vangs van die boot af gehaal kan word) Net buite Paternoster, draai links op die grondpad na StHelenabaai en dan regs na Velddrift. Hier is ook 'n voorbeeld van hoe ontwikkeling 'n pragtige kuslyn bederf. Vanaf Velddrift volg die R399 na Piketberg. Hierdie opsie sal u toelaat om te deel in die watersport en bootritte op die Langebaan strandmeer asook nader bring aan 'n fossiel terrein terwyl voëlkykers hul geluk mag glo nie.
PIKETBERG NA CLANWILLIAM (97km) Opsie 1: (97km) Volg die N7 noord. Let op die verandering in natuur sodra u die Piekenierskloofpas oor is. Moet nie nalaat om sitrus langs die pad by Citrusdal te kry nie. Opsie 2: (175km) Volg die R365 na Elandsbaai (gedeltelik grondpad). Volg die kortpad (tolpad) langs die treinspoor na Lambertsbaai. 'n Besoek aan Voëleiland (mens stap droogvoets daarheen) is 'n moet. Van hier, volg die R364 na Clanwilliam.
CLANWILLIAM NA VANRHYNSDORP (75km) Opsie 1: (75km) Volg steeds die N7 noordwaarts. Geniet die Olifantsrivier en intensiewe boerdery op terasse langs die rivier. Indien u proviand moet aanvul, draai links by Klawer op die R363 na Vredendal, die laaste groot sentrum op die roete. Opsie 2: (125km - Hoofsaaklik grondpad en volumes verkeer in blomtyd mag dit uitgery wees. Na ons mening is dit egter die moeite werd.) Vanaf Clanwilliam volg die roete oor die Pakhuispas. Geniet die ongelooflike rotsformasies aan die hange van die Sederberg. U sal rots tekeninge vind bokant die graf van CLouis Leipold. Na die smal brug oor die Doringrivier, ry reguit in rigting Calvinia. Aan die bopunt van die Botterkloofpas draai links na Nieuwoudtville. In blomme seisoen gaan u waarskynlik meer tyd hier wil spandeer. Vanaf Nieuwoudtville, volg die teerpad oor die Vanrhynspas na Vanrhynsdorp.
VANRHYNSDORP NA SPRINGBOK (275km) Amptelik is die suidelike grens van Namakwaland die Olifantsrivier. U het die rivier gekruis naby Klawer. Die roete na Springbok is steeds die N7, eers deur die Knersvlakte, verby Nuwerus, Bitterfontein (dit is graniet wat wag op uitvoer langs die spoorlyn), Garies en Kamieskroon.
|